Queen Kamati van Swapo nuwe Windhoek burgemeester
Stad Windhoek se nuwe burgemeester is raadslid Queen Kamati van Swapo, wat 6 uit 11 stemme tydens die ampsdraerverkiesing gekry het. PDM-raadslid Clemencia Hanases het vyf stemme gekry. Hanases is genomineer deur LPM-raadslid Sade Gawanas en Kamati deur Nudo-raadslid Joseph Uapingene, die vorige burgemeester. Uapingene is as die onderburgemeester ingestem, aangesien hy die enigste een was wat vir die pos genomineer is. Daar moes vyf lede vir die bestuurskomitee genomineer gewees het, maar slegs drie benoemings is ontvang en die raad besluit nou op ‘n datum vir die volgende verkiesing om die twee plekke te vul. Raadslede Job Amupanda, Sade Gawanas, Clemencia Hansases en Ilse Keister-Elago het uitgestap toe die Swapo-burgemeester aangekondig is. Die goewerneur van die raad, Jurina /Hoxobes, het die uitslae aangekondig.