Mangaanuitvoere sal daal namate prys van erts daal

United Manganese of Kalahari het aangekondig dat hy, in reaksie op die verslegtende marktoestande, die produksie van mangaanerts en gepaardgaande daarmee, die verkoop van sy ertsprodukte vir eers sal verminder. Dit behoort ‘n wesenlike impak op Namport op Lüderitz te hê omdat hy die erts namens die talle Noord-Kaapse produsente uitvoer. Uitvoere deur die Lüderitz-hawe het rondom 720 000 metrieke ton in 2022 beloop. Beleggings is in Mei 2022 aangekondig om die uitvoere na 2,1 miljoen metrieke ton op te stoot. Maar, vraag na mangaan het stelselmatig afgeneem as gevolg van die dalende vraag van verbruikersbedrywe soos staal en konstruksie, veral in China. Die prys per kilogram het gehalveer na ongeveer 2,5 Amerikaanse dollar per kilogram en voorspellings is dat dit daar sal bly die jaar. Die mynmaatskappy is die vierde grootste maangaanprodusent in Suid-Afrika.