Stel jy belang in ‘n TV wat jy kan lek?

‘n Professor in Japan het ‘n prototipe televisie ontwerp met ‘n skerm wat gebruikers kan lek en verskeie geure kan proe. Die geur is in ‘n higiëniese deurskynende film vervat wat oor die skerm van die TV, wat ‘Taste the TV’ genoem word, rol. Professor Homei Miyashita sê die doel is om ‘n ervaring te skep wat mense in die Covid-era kan verbind met byvoorbeeld, ‘n restaurant aan die ander kant van die wêreld. Miyashita het ook reeds ‘n vurk ontwerp vat die geur van kossoorte verbeter. Volgens hom sal die televisie leerder-sjefs en meer kan bystaan met afstandsonderrig. Volgens internasionale nuusagentskappe is hy ook in samesprekings met maatskappye om die deurskynende film te kan vervaardig om op ‘n broodjie of ‘n pizza te plaas vir smaak. Die televisie sal ongeveer 875 Amerikaanse dollar, of 13 800 Namibiese dollar kos om te vervaardig.