Top-tien rykstes word tydens pandemie met US$1,3 miljard daagliks ryker
Oxfam International sê die tien rykste mans in die wêreld se rykdom het verdubbel sedert die begin van die pandemie en staan tans op 1,5 triljoen Amerikaanse dollar, of, 23 kwadriljoen Namibiese dollar – dis 15 nulle. Volgens die welwillendheidsorganisasie het van die maatreëls wat regerings regoor die wêreld ingestel het, 163 miljoen mense armer gemaak terwyl die superrykes voordeel uit veral stimuluspakkette getrek het. Oxfam sê dat teen 2030, daar 3,3 miljard mense in die wêreld sal wees wat op minder as 84 Namibiese dollar ‘n dag oor die weg moet kom. Terwyl 99 persent van die wêreld se inkomstes tussen Maart 2020 en Oktober 2021 afgeneem het, het die tien rykste mans met ongeveer 1,3 miljard Amerikaanse dollar – daagliks – ryker geword.