DA sê boere moet teen hondsdolheid waak
Die DA sê die departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming moet ‘n openbare waarskuwing aan boere uitreik oor die risiko’s wat gepaardgaan met die toenemende verspreiding van hondsdolheid in die Oos-Kaap. ‘n DA-lid van die wetgewer, Retief Odendaal, sê dié beroep volg op ‘n kommerwekkende toename in hondsdolheid-gevalle, veral in die Nelson Mandelabaai-, Buffalo City- en Alfred Nzo-gebiede. Hy sê die virus het ook etlike lewens geëis sedert die uitbreking verlede jaar vir die eerste keer geïdentifiseer is.