Interpol help met repatriasie van Namibiërs in Oman
Die Namibiese regering het saam met Interpol 21 Namibiese vroue wat slagoffers was van vermoedelike mensehandel uit Muscat, Oman, gered. Die regering is in Maart vanjaar bewus gemaak van vermoedelike mensehandel van Namibiërs na Oman en die Midde-Ooste sedert Februarie 2022. Een-en-dertig vroue is as huishulpe in Oman gewerf. Die minister van internasionale betrekkinge Netumbo Nandi-Ndaitwah, sê die 21 slagoffers het op 30 Junie 2022 na Namibië teruggekeer deur ingrypings deur die ministerie en Interpol in Oman. Die kostes is deur die families van die slagoffers gedra. Die saak word nog ondersoek en arrestasies word verwag. Sy voeg by dat die oorblywende tien slagoffers aangedui het dat hulle so gou moontlik na Namibië wil terugkeer. Hul terugkeer is egter afhanklik van familielede wat die nodige fondse moet verseker. Sy het ‘n beroep op die Namibiese publiek gedoen om waaksaam te bly.