Soos verwag is dit ‘ja’ vir anneksering deur Rusland
Vier sogenaamde referendums het geëindig in die vier Russies-beheerde streke van Oekraïne. Soos verwag, is die uitslae oorweldigend ten gunste van Russiese beheer met amptenare wat sê 99,23 persent van inwoners het ja vir anneksering gestem. Die proses is deur die Oekraïnse regering en sy bondgenote, sowel as die Verenigde Nasies as bedrog uitgekryt omdat daar geen onafhanklike monitering was nie. Die kommer bestaan nou dat sou die Oekraïne enige van die gebiede, Donetsk, Luhansk, Kherson en Zaporizhzhia, aanval, dat Rusland dit as ‘n aanval op sy grondgebied sal beskou en Russiese President Vladimir Putin het onlangs gesê dat sou sy gebied aangeval word sal hy nie skroom om kernwapens te gebruik nie. Die Weste het skerp gereageer op die kommentaar.