Covid: Chinese is sat vir inperkings
Betogings teen China se streng Covid-inperkings het vandag, byna drie jaar na die pandemie, na meer stede versprei, insluitend Sjanghai, met ‘n nuwe vlaag woede wat veroorsaak is deur ‘n dodelike brand in die land se verre weste. Die brand wat Donderdag 10 mense in ‘n hoë gebou in Urumqi, hoofstad van die Xinjiang-streek doodgemaak het, het wydverspreide openbare woede ontketen. Baie internetgebruikers sê dat inwoners nie betyds kon ontsnap nie omdat die gebou gedeeltelik gesluit was, wat stadsamptenare ontken. Die land gaan gebuk onder rekord Covid-syfers van meer as 30 000 nuwe gevalle daagliks. Die nul-Covid-beleid beteken miljoene inwoners van gebiede word ingeperk.