‘Saoedi-kroonprins probeer Amerikaanse regstelsel manipuleer’
Die Saoedi-Arabiese kroonprins Mohammed bin Salman word daarvan beskuldig dat hy betrokke was by ‘n poging om die Amerikaanse hofstelsel te manipuleer. Dit was in ‘n poging om straf vry te spring in ‘n siviele saak wat deur die verloofde van Jamal Khashoggi aanhangig gemaak is. Die Biden-administrasie het verlede week beslis dat prins Mohammed immuniteit het in ‘n regsgeding oor die moord op die joernalis. Khashoggi is in 2018 deur Saoedi-agente in die land se konsulaat in Istanboel vermoor en sy liggaam vermink. Amerikaanse intelligensie was van mening die joernalis se moord was in opdrag van die prins.