Phala Phala: Cyril is in die sop…

Die onafhanklike Artikel 89-paneel het prima facie-bewyse gevind dat President Cyril Ramaphosa sekere dele van die Grondwet oortree het. Die paneel onder voorsitterskap van afgetrede hoofregter Sandile Ngcobo moes vasstel of daar ‘n saak was om ‘n ampsklag teen die president in te dien oor die diefstal op sy Phala Phala-plaas in Limpopo. Die paneel het bevind Ramaphosa het moontlik ernstige wangedrag gepleeg, dele van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite oortree, teenstrydig met sy ampseed opgetree en homself aan botsende belange blootgestel. Intussen sê die paneel in sy verslag daar is bewyse van ‘n doelbewuste poging om nie die misdade by Phala Phala openlik te ondersoek nie. In die verslag word ook gemeld dis kommerwekkend dat die diefstal nie soos ‘n gewone misdaad by die polisie aangemeld is nie en voeg by die feit dat daar tot op hede geen saaknommer is nie, bewys die manier waarop dit aangemeld is was onregmatig en onwettig. Die DA het by monde van sy woordvoerder, Cilliers Brink, so reageer.

Intussen sê Ramaphosa hy ontken kategories dat hy op enige wyse sy ampseed oortree het en hy is nie skuldig aan enige van die bewerings teen hom nie.