Namport se sukses raak uitdaging vir Walvis-owerheid
Die plaaslike owerheid op Walvisbaai sê hy sukkel om paaie in stand te hou met toenemende vragmotor-verkeer op die dorp. Die munisipaliteit sê vragmotors kom van heinde en ver om vrag en goedere by die hawe op of af te laai. Die dorp se hoof uitvoerende beampte John Esterhuizen sê hulle het die Padfonds-administrasie genader vir bystand omdat inwoners ten duurste moet betaal vir die instandhouding van die paaie, maar, die administrasie se jurisdiksie lê buite die dorp se distriksgrens. Esterhuizen sê roetes wat na en van die hawe af beweeg behoort as nasionale paaie verklaar te word. Die administrasie het bevestig dat hy sy befondsingsmodelle sal hersien in die verband.