TV-joernalis in Florida doodgeskiet
‘n Televisiejoernalis is doodgeskiet terwyl hy sy werk gedoen het op ‘n moordtoneel in die Amerikaanse deelstaat Florida. In ‘n aparte aanval, vermoedelik deur dieselfde skieter, is ‘n negejarige meisie dood in ‘n huis naby die toneel. Die polisie is aanvanklik ontbied na ‘n skietery by Pine Hills waar ‘n 20-jarige vrou dood in haar voertuig aangetref is. ‘n Aanvaller het op die televisiespan, wat van die toneel af verslag gedoen het, losgebrand. Die joernalis is in die hospitaal dood en sy kollega is in ‘n kritieke toestand. Kort daarna is die polisie na nóg ‘n skietvoorval ontbied waar ‘n vrou en haar negejarige kind gewond is. Die kind is ure later dood. ‘n Negentienjarige verdagte is in hegtenis geneem en die motief vir die aanvalle is nie bekend nie.