Meatco se inkomste, bruto wins verhoog

Meatco het sy inkomste met 15 persent van 752 miljoen Namibiese dollar tot 865 miljoen dollar verhoog. Volgens plaaslike berigte het Meatco ook sy bruto wins met 950 persent tot 24 miljoen dollar verhoog vanaf ‘n verlies van 2,8 miljoen dollar. Die maatskappy het sy jongste jaarverslag van 2022/23 tydens sy algemene jaarvergadering buite Grootfontein bekendgestel, maar sy jaarverslag is nog nie op sy webtuiste nie. Meatco verklaar dat die positiewe wending is ondanks die voortslepende droogte en Covid-19 wat die vraag na sy premium-produkte en markverwesenliking negatief beïnvloed het. Die daling in Euro-Namibiese dollar-wisselkoers wat in die oorsigjaar ervaar is, het eweneens bygedra tot die uitdagings waarvoor die entiteit te staan gekom het.