Amushelelo stig kleinhandel-vakbond
Arbeidsaktivis en NEFF-lid Michael Amushelelo het ‘n nuwe vakbond aangekondig, die Nasionale Unie van Kleinhandel-industrie Werkers. Hy sê die aansoek om registrasie is reeds by die arbeidsministerie ingedien. Volgens Amushelelo sal hulle fokus op werkers in die kleinhandelbedryf wees. Aansoeke is oop en die fooi om lidmaatskap beloop 100 Namibiese dollar. Die unie sal volgens hom werkers wat mishandel, uitgebuit, onderdruk en onderbetaal word, verteenwoordig. Hy het op sy sosiale media gesê daar is gerugte dat van die kleinhandelsreuse in die land reeds werkers gedreig het met afdanking sou hulle by die vakbond aansluit. Aan die werkers sê hy hulle moet dit dringend by hom aanmeld omdat dit enige werker se reg is om by enige vakbond aan te sluit.