Aus-riool besoedel grondwaterbronne

Daar is groot kommer onder inwoners van Aus in die Karas-streek. Rioolstelsels is gebrekkig en rou riool spoel oor in droë rivierbeddings in en om die dorpie. Die probleem duur sedert Januarie voort en inwoners meen grondwater sal besoedel word. Plaaslike inwoner Bernd Roemer het aan die nasionale uitsaaier die gesondheidsrisiko’s beklemtoon en sê waterbronne moet te alle tye beskerm word. Hy blameer ‘n gebrek aan onderhoud. Waarnemende hoofstreeksbeampte Ralph Sachika sê die begroting vir herstelwerk is slegs twee weke gelede goedgekeur en dat die probleem binnekort aangespreek sal word.