Blitsbokke deur na Dubai-kwarteindstryd

Rugby: Die Blitsbokke is deur na vandag se kwarteindstryd van die Dubai Sewes na ‘n naelbyt-oorwinning oor Frankryk in hulle derde en laaste wedstryd gister in Groep A. Die Suid-Afrikaners het goed afgeskop met ‘n oortuigende 17-0-oorwinning oor Australië, maar het met 22-17 vasgeval teen Kenia. Die telling teen Frankryk was gelykop, 19-elk, aan die einde van die toegelate tyd, maar Donovan Don het die wendrie in bykomende tyd gedruk vir ‘n eindtelling van 24-19. Die Blitzbokke kom later vanoggend in hulle kwarteind te staan teen Nieu-Seeland.