Bloemhofdam se vrylating van 3 808 kubieke meter/sekonde sal geskiedkundige vloede bring

Die Namibiese Hidrologiese Diens sê die vlakke van die Benede-Oranje styg vinnig en by Blouputs is dit op 4,86 meter gemeet met verdere stygings wat verwag word. Die damme in Suid-Afrika, die Vaal, Bloemhof, Gariep en Vanderkloof bly op 100 persent van kapasiteit en gesamentlik word 9 650 kubieke meter per sekonde uit die damme vrygestel. Bloemhofdam wek die grootste kommer omdat die dam op die oomblik 3 808 kubieke meter water per sekonde vrylaat. Die hoof uitvoerende beampte van Raisins SA, Ferdie Botha wat met Kosmos 94.1 Nuus gepraat het, sê dit sal moontlik die grootste vloed sedert 1988 in die Benede-Oranje wees.