Boulter verskyn weer, lelike gerugte oor Van Wyk-weduwee
Die Britse miljardêr Harvey Boulter sal weer vandag in die landdroshof op Kamanjab verskyn op klagte van moord, die besit van ‘n vuurwapen sonder die nodige lisensie en ander klagte. Hy het op 17 September verlede jaar onskuldig gepleit en landdros Immanuel Udjombala het sy saak tot vandag toe uitgestel vir die aanklaer-generaal om die finale klagte teen hom te formuleer. Die saak spruit uit die skietdood van Boulter se voorman Gerhard van Wyk, op 27 Februarie verlede jaar. Boulter sê hy het homself verdedig. Intussen is daar berigte dat Van Wyk se weduwee Alta deur die polisie ondersoek word vir dwarsboming van die gereg en afpersing wat moontlik verbind kan word met ‘n eis van 55 miljoen dollar deur ‘n Suid-Afrikaanse regsfirma. Die bewerings kon tot dusver nie bevestig word nie. Boulter is vry op 500 000 dollar borg en word deur Kadhila Amoomo verdedig.