Covid: 70% dekking meen kinders moet vanaf 10 geënt word

Die Afrika Sentrum vir Siektebeheer en –voorkoming is van mening dat Namibië kinders so jonk as tien jaar oud moet inent om 70 persent dekking te verseker. Die land se Covid-gevalle neem op die oomblik skerp toe met meer as 10 000 aktiewe gevalle wat tans bevestig is. Die gesondheidsministerie het die inenting van kinders vanaf die ouderdom van 12 goedgekeur. Die sentrum het die berekeninge gemaak gebaseer op demografiese data van Afrika-lande en Namibië is bekend vir sy jonger bevolking met amper 39 persent van die land se inwoners wat onder 15 jaar oud is. Die sentrum sê net vyf Afrika-lande ent in die korrekte ouderdomsgroep: Libië, Marokko, Mauritius, Seychelles en Suid-Afrika. Inentings vir kinders tussen vyf en 12 jaar oud is reeds in verskeie lande goedgekeur maar die plaaslike gesondheidsowerhede, wat geen navorsing uitvoer nie en staatmaak op ander lande se bevindings, het nog nie die groenlig gegee vir die ouderdomsgroep vir inenting nie.