De Beers belê N$32 miljoen in reuse-seewierwoud aan Namibiese kus
De Beers hoop dat ‘n reuse-seewierwoud aan die Namibiese kus kan help om sy koolstofvoetspoor te verminder. Die diamantmaatskappy gaan 32 miljoen Namibiese dollar belê in Kelp Blue wat dit kweek en in stand hou. Dit kan moontlik groot hoeveelhede koolstofdioksied permanent vasvang. Hierdie onderwater-woude het bykomende voordele om voedsel en skuiling vir mariene biodiversiteit te verskaf, sowel as om volhoubare ekonomiese ontwikkeling vir Namibië te ondersteun, aangesien die onderneming glo gedurende die loodsfase ‘n reeks direkte en indirekte werksgeleenthede in biotegnologie, ingenieurswese, verwerking, ondersteuningsdienste en logistiek sal skep.