Gedempte kredietmark duur voort in Oktober
Privaatsektor kredietverlening het in Oktober ietwat toegeneem tot 1,8 persent op ‘n jaargrondslag, wat effe beter is as die 1,6 persent wat in September gemeet is. Simonis Storm sê in sy jongste verslag dit is egter ‘n afname in vergelyking met die 3,5 persent groei in Oktober verlede jaar en dui op ‘n gedempte kredietmark. Die totale krediet wat aan die private sektor verleen is, het einde Oktober 119,3 miljard Namibiese dollar beloop. Die klein toename in privaatsektor kredietverlening word grootliks toegeskryf aan die huishoudelike sektor, met veral ‘n toename in oortrokke fasiliteite aan individue. Kredietverlening aan korporatiewe entiteite het sy afwaartse trajek voortgesit.