Geen bymotiewe met Gupta-saak nie

Die Suid-Afrikaanse justisieminister, Ronald Lamola, sê daar was geen bymotiewe of politieke motivering vir die inhegtenisnemings van Atul en Rajesh Gupta nie. Die broers is vroeër vandeesmaand in Dubai in hegtenis geneem in verband met die beweerde Nulane Investment-bedrog ter waarde van 24,9 miljoen Suid-Afrikaanse rand in die Vrystaat. Lamola sê bewerings dat die inhegtenisnemings gedoen is om die aandag af te lei van die skandaal rondom 61 miljoen rand wat na bewering op President Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo gesteel is, is ongegrond. Die Nasionale Vervolgingsgesag het tot 2 Augustus om ‘n aansoek vir die broers se uitlewering in te dien.