Gratis watervoorsiening wek kommer onder dorpsrade
Watervoorsiening bly in die nuus. Die opdrag dat dorpsrade water aan inwoners moet voorsien ongeag die stand van hul rekenings, en wat reeds in Maart 2020 deur die ministerie van stedelike ontwikkeling gegee is, geld steeds. Maar, dorpsrade is sat vir inwoners wat nie waterrekenings betaal nie en die hoof van NamWater Abraham Nehemia het onlangs aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat uitstaande skuld op 1,2 miljard Namibiese dollar staan. Die jongste dorpsraad wat nou dreig om krane toe te maak is Nkurenkuru wat sê enige inwoner wat meer as 500 dollar skuld, nie meer water sal ontvang nie. Die raad skuld NamWater reeds 124 miljoen dollar en sê hy wil nie soos Rundu opeindig nie. Rundu word 300 miljoen dollar deur sy inwoners geskuld en is op voorafbetaalde water by NamWater omdat hy nie sy rekening kan betaal nie.