Griekse spoorwegwerkers staak

Spoorwegwerkers in Griekeland staak vandag nadat 43 mense in ‘n treinbotsing dood is. ‘n Passasierstrein met sowat 350 mense aan boord, het buite die dorp Larissa reg van voor teen ‘n vragtrein gebots. Baie van die passasiers op die trein was studente in hulle twintigs. Dit is steeds nie duidelik waarom albei treine op dieselfde spoor was nie. Spoorwegvakbonde sê veiligheidstelsels werk nie behoorlik nie, ondanks herhaalde waarskuwings oor die afgelope jare. Die Griekse minister van vervoer Kostas Karamanlis het intussen bedank en ‘n stasiemeester is van manslag aangekla. Protesoptrede het ook op verskeie plekke uitgebreek.