Helfte van Argentinië sonder krag
Meer as die helfte van Argentinië is sonder krag nadat ‘n brand die nasionale elektrisiteits-netwerk beskadig het. Die brand het glo in ‘n oop stuk veld begin. Argentinië gaan tans gebuk onder ‘n reuse-hittegolf, wat lei tot ‘n verhoogde vraag na energie. Die kragonderbreking het ook ‘n direkte invloed op watervoorsiening. Sowat 20 miljoen inwoners in die land word geraak en in sommige streke is sake-ondernemings en skole gesluit. Dit is veral groot stede wat geraak word en in Buenos Aires het sowat 150 000 mense nie krag nie. Die ministerie van energie sê kragtoevoer sal binnekort herstel word.