James Webb word vandag gelanseer

Die James Webb Ruimteteleskoop sal vandag gelanseer word. Daar is groot opgewondenheid omdat die 9 miljard Amerikaanse dollar se teleskoop baie meer inligting oor die heelal en hoe alles ontstaan het sal bymekaar maak. Die teleskoop sal meer inligting as sy voorganger, Hubble, kan insamel omdat hy 100 keer meer sensitief is vir beelde. As alles goed verloop sal die 6,3 ton teleskoop in ongeveer ses ure vanaf Frans Guyana in Suid-Amerika gelanseer word, en 26 minute neem om die ruimte te bereik waarna hy sal ontvou en so groot soos ‘n tennisbaan sal wees. James Webb, wat vernoem is na die hoof van Nasa in die Sestigerjare, se wentelbaan sal ‘n miljoen kilometer van die aarde af wees.