Onderwys in landelike gebiede het talle uitdagings

Die Namibiese onderwyssektor het groot uitdagings met infrastruktuur, veral in landelike gebiede met ‘n gebrek aan klaskamers en koshuisgeriewe. ‘n Skoolhoof by die Laerskool Vergenoeg in die Kalahari-kiesafdeling in die Omaheke-streek, Kaituara Kazapua, het ‘n beroep gedoen om te help met die ontwikkeling van landelike skole. Sy beklemtoon dat ‘n gebrek aan koshuisgeriewe en vervoer by die skool die onderrigproses negatief beïnvloed. Kazapua sê dat beperkte klaskamer- en koshuisspasie ‘n uitdaging word as gevolg van die toenemende aantal leerders.