Rebelle in Tigray eerbiedig skietstilstand

Tigrayse magte in Ethiopië sê hulle sal ‘n skietstilstand wat deur premier Abiy Ahmed se regering voorgestel is, respekteer solank as wat voldoende hulp aan hul oorloggeteisterde noordelike streek gelewer word “binne redelike tyd”. Die regering in Addis Abeba het die skietstilstand verklaar om humanitêre hulp na die gebied te stuur.  Die streeksregering van Tigray sê hy sal alles moontlik doen om te verseker die skietstilstand bly behoue. Oorlog het in November 2020 tussen die Tigray People’s Liberation Front en die sentrale regering onder leiding van Abiy uitgebreek. Die konflik, wat na die naburige Amhara- en Afar-streke versprei het, het duisende burgerlikes gedood en miljoene oor die noorde van Ethiopië en na die naburige Sudan verplaas.