Rusland gaan deelname aan kernwapenbeheer-verdrag opskort
Russiese President Vladimir Putin het tydens sy staatsrede aangekondig dat Rusland sy deelname aan ‘n bilaterale kernwapenbeheer-verdrag gaan opskort. Die New Start-verdrag tussen Rusland en Amerika beperk die getal kernplofkoppe wat die twee lande kan ontplooi. Die verdrag sou in 2026 verstryk het. Putin beweer dat Amerika dit oorweeg om kerntoetse te hervat, en het gesê indien dit gebeur, behoort Rusland ook gereed te wees om kernwapens te toets. Amerika en Rusland besit gesamentlik sowat 90 persent van die wêreld se kernplofkoppe. Putin het deurlopend in sy staatsrede Oekraïne en die Weste die skuld gegee vir die oorlog in Oekraïne.