Saoedi-oliemaatskappy teken US$161 miljard se wins aan

Die oliemaatskappy Saudi Aramco het verlede jaar 161 miljard Amerikaanse dollar in winste aangeteken, die hoogste ooit vir ‘n publiek genoteerde maatskappy. Aramco se wins het met 46,5 persent teenoor 2021 gestyg, as gevolg van die oorlog in Oos-Europa wat oliepryse deur die dak gestuur het. ‘n Oorgrote meerderheid van Saudi Aramco-aandele word deur die Saoedi-regering besit ten spyte daarvan dat dit publiek genoteer is. Amnesty International se sekretaris-generaal, Agnès Callamard, het Aramco se wins gekritiseer te midde van wêreldwye kommer oor klimaatsverandering. Sy sê dit is skokkend dat die tipe van wins aangeteken word tydens ‘n wêreldwye lewenskostekrisis.