Sioka se ministerie misluk weer
Die Namibiese geslagsgelykheid-ministerie gaan gereeld gebuk onder kritiek, en veral sy minister Doreen Sioka, met talle menings dat sy nie doeltreffend is nie. Die jongste ouditverslag deur ouditeur-generaal Junias Kandjeke, blyk om dié algemene siening te ondersteun. Die ministerie het in die 2021-2022 boekjaar 35,3 miljoen Namibiese dollar terugbetaal. Die fondse was uitgesit vir verskeie skuilings en sentrums vir hawelose kinders en vroue. Kandjeke sê adminsitratiewe foute het daartoe gelei met verkrygingsprosedures wat nie voltooi is nie. Drie skuilings, op Rundu, Opuwo en Eenhana, is nie voltooi nie omdat die kosteberamings nie gedoen is nie. Geen bestellings is uitegereik vir werk by plaas Kaukarus nie en dus staan die projek ook stil, en vir die sentrum op Keetmanshoop is verkryging ook nie voltooi nie. Daar word meer as 200 gevalle van geslagsgeweld maandeliks in die land aangemeld en dit is net die sake wat aangemeld word met vroue en kinders wat nêrens het om heen te gaan nie. Sioka se ministerie gee jaarliks fondse terug wat nie gebruik is nie.