Studie toon blootstelling aan lugbesoedeling kan brein benadeel
ʼn Studie in die joernaal, Environmental Health, toon dat twee ure se blootstelling aan lugbesoedeling, insluitende dieseldampe, die funksionele verbindings van die menslike brein kan benadeel. ʼn Senior studieskrywer en professor aan die Universiteit van Brits-Columbië, Chris Carlsten, sê 25 gesonde volwassenes is op verskillende tye in laboratorium-toestande aan diesel-uitlaatgasse en gesuiwerde lug blootgestel en die brein is voor en na elke blootstelling gemeet. Hy sê die studie toon deelnemers het verminderde funksionele verbindings ná blootstelling aan dieseldampe gehad in vergelyking met gesuiwerde lug.