Sweedse hof stuur Kurdiese man tronk toe ná hy militante groep finansier
‘n Sweedse hof het ‘n Kurdiese man tot vier en ‘n half jaar tronkstraf gevonnis vir sy pogings om ‘n Kurdiese militante groep, die PKK te finansier. Die hof in Stockholm het ook gelas dat die man uit Swede gedeporteer word sodra hy sy vonnis uitgedien het. Die man is van Turkse herkoms. Dit is die eerste hofsaak van dié aard sedert Swede se strenger wetgewing oor die finansiering van terreur verlede maand in werking getree het. Die hofbeslissing is gemaak ten tyde van ‘n vergadering van ministers van buitelandse sake in Brussel waar Swede se lidmaatskap van Navo bespreek word. Turkye was tot dusver gekant teen Swede se lidmaatskap en beskuldig Swede daarvan dat hy lede van groepe soos die PKK huisves.