Vrou wat haar 6-jarige dogtertjie mishandel, weer in die hof

Die vrou wat in die gru-video middel Augustus vanjaar verfilm is waar sy op ‘n ses-jarige meisie sit en haar herhaaldelik slaan en verwurg, verskyn weer vandag in die landdroshof in Katutura. Tulinda Johannes, 23, die ma van die dogtertjie, se saak is op 15 Augustus tot vandag uitgestel vir die polisie om sy ondersoek te voltooi. Die voorval het in Greenwell Matongo in die hoofstad plaasgevind en het wyd reaksie uitgelok. Intussen sal ‘n 41-jarige man vandag in die hof verskyn op klagte van moord. Volgens die polisie het hy en sy 41-jarige vriendin baklei. Sy is drie keer in die rug gesteek met ‘n kombuismes en is op die toneel in Havana in die hoofstad dood verklaar. Die verhouding tussen die twee was volgens die mag gekenmerk deur geweld.