Zelensky sê dit raak rof in Bakhmut
Die President van Oekraïne, Volodmir Zelensky sê die situasie in die stad Bakhmut in die Donetsk-streek, is besig om al hoe moeiliker te raak. Russiese magte probeer al vir meer as ses maande om ten volle beheer oor die stad oor te neem. Van die hewigste gevegte sedert die begin van die Russiese inval, het in Bakhmut plaasgevind. Zelensky sê pogings om die stad te verdedig word belemmer deur hernude aanvalle deur Russiese magte. Hy het weer ‘n beroep op sy Westerse bondgenoete gedoen om moderne vegvliegtuie na Oekraïne te stuur om die land se verdediging te versterk. Die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen het intussen ‘n verrassingsbesoek aan die Oekraïnse hoofstad Kiëf gebring, ‘n week na President, Joe Biden. Sy het weer gewaarsku dat daar ernstige gevolge vir China sal wees indien die land besluit om wapens aan Rusland te verskaf.